Bring SASPOL terug

Stemme gaan op dat die Spoorwegpolisie teruggebring moet word.

Die ou SA Spoorwegpolisie is in 1986 ontbind en sy lede is opgeneem in die SA Polisie, wat dan sou sorg vir veiligheid op stasies en treine. Dit het nie gebeur nie.

Alhoewel die Spoorwegpolisie ‘n klein mag was, was hulle baie gedissiplineerd en het algemeen agting en respek afgedwing. Hulle mobiele eenheid het gesorg vir orde op treine, terwyl hulle speurdiens van hoogstaande gehalte was om misdadigers suksesvol op te spoor. Ook hulle taakmag was bekend vir die goeie opleiding, veral om moontlike vliegtuigkapingsituasies te ontlont.

Die vakbondfederasie Fedusa bepleit die herinstelling van die Spoorwegpolisie nadat 32 pendelaars die afgelope twee jaar op treine in die Wes-Kaap vermoor en 66 ernstig beseer is, en nadat vandale talle treinwaens beskadig of uitgebrand het wat lei tot vertragings van treindienste.

Foto: Die ou Spoorwegpolisie se wapen