Brasilië heroorweeg mynregte in reënwoud

As gevolg van ’n reuse aanslag van beswaardes oor die regering se toekenning van regte om minerale te delf in die reënwoud van Brasilië, het die regering besluit om te herbesin oor die regte.

Die Amasone reënwoud word ernstig bedreig deur die regering se goedkeuring wat aan mynhuise gegee is om in ’n reuse gebied mynregte uit te oefen.

President Michel Temer se administrasie het terug geskarrel en ’n dekreet wat uitgevaardig is, herroep nadat ’n groot stem van protes opgegaan het.

Regte is toegeken om hoofsaaklik goud en koper te ontgin in ’n gebied so groot as die hele België, wat volgens kenners ’n geweldige negatiewe invloed sal uitoefen op die klimaat.

Protes het opgegaan met die beskuldiging dat Brasilië onderneem het om die omgewing te bewaar, en dat die reënwoude nie vernietig of beskadig sal word nie.

Die reënwoude is tans ’n bewaringsgebied wat strek tussen twee deelstate en beslaan ’n oppervlakte van bykans 47 000 vierkante kilometer.