Bedrog in die sjokoladebedryf

Die wêreld se sjokoladebedryf is besig met ’n reuse bedrog terwyl die mensdom onbewus is daarvan dat hulle dikwels gekul word met byvoegsels wat die belangrike kakao moet vervang.

Die kakao handelaars wat verkope doen aan instansies soos Nestle, Mars en andere, koop bone wat onwettig gekweek is in die beskermde reënwoude van Wes-Afrika, veral in die Ivoorkus.

Die belangrike reënwoude se bome word afgekap om plek te maak vir kakao aanplantings met die gevolg dat 80% van die beskermde gebied reeds verwoes is.

Daarbenewens word onwettige produkte gemeng in die “skoon” bone en aan groot produsente gelewer.

Met meer as 40% van die wêreld se kakao wat afkomstig is uit die Ivoorkus, word byna al die groot vervaardigers gekul, en so ook die verbruikers.

Die omkopery van bewakingsbeamptes om ’n blinde oog te draai na die onwettige aanplantings, maak dit soveel makliker vir kakao produsente.

Sjokoladevervaardigers hou hulle ook blind vir die ongerymdhede wat die ketting van kullery net al langer maak, het een woordvoerder gesê.

Tot 70% van die wêreld se kakaoproduksie kom van sowat 2 miljoen landbouers in die streek van Siërra Leone, die Kameroen, Ghana en die Ivoorkus.

In al die gebiede is die onwettige aanplantings aan die orde van die dag, maar die Ivoorkus se reënwoude word die ergste daardeur getref.