Baba-se-trane / Soleirolia soleirolii / mind-your-own-business

 

Soleirolia soleirolii is nie onbekend by ons nie. Ons sien hierdie pragtige plant gewoonlik in hangmandjies en potte en dit vertoon mooi in badkamers.

Baba-se-trane is in die familie Urticaceae en die spesie is S. Soleirolii en die rang is Rosales. Dit is ‘n delikate plant en dit  kan as ‘n grondbedekker dien tussen klippe en paadjies. Hierdie plante verkies skadu en daarom groei dit pragtig binnenshuis ook. In koue gebiede sal die plant dormant gaan in die winter, maar sal weer in die lente begin groei. In sommige gebiede is dit ‘n onkruid. Hopelik beskou u dit nie as onkruid nie, maar vertroetel dit sommer in ‘n hangmandjie en dit vertoon so mooi.

Baba-se-trane is ‘n meerjarige plant en hou van klammigheid en skaduwee en kan saam met ander varings in die tuin geplant word. Hierdie plante dra baie klein blou/pers blommetjies in die somer en daar is kultivars wat rooi blommetjies dra.

Dit sal nie in gebiede aard waar dit ryp in die winter nie. In klam tropiese areas, waar dit 80% skaduwee geniet, sal dit baie goed groei en sommer dig raak en so grasgroen. Hierdie plantjies hou ook nie van wind nie. Plant dit in goed dreinerende grond en maak gereeld nat. Moet dit egter nie in ‘n pot plant wat nie ‘n dreineergaatjie onder het nie, want die plantjie sal verrot indien dit in water bly staan.  Soleirolia soleirolii groei omtrent 5 cm hoog maar dit kan wyd uitsprei. Dit groei baie maklik en plant self voort waar daar ook al ‘n wortel of lopertjie agterbly wanneer u dit as ‘n grondbedekker geplant het tussen plaveiklippe. Probeer om dit altyd onder beheer te hou in die tuin, maar in potte kan hulle maar floreer!

Tuiniers, geniet u lentetuin tot volgende keer.