Aspersies / Asparagus officinalis

Aspersies is heerlik en vars en so sag op die tong. Dit is in die familie Asparagaceae en die genus is Asparagus en die rang is Asparagales. Aspersies is ‘n lentegroente en dit is meerjarig. Oorspronklik kom aspersies van die oostelike Middellandse See. Dit was reeds aan die ou Romeine bekend en word as ‘n groente in Europa gekweek sedert die 15de eeu. Aspersies is 2 500 jaar gelede vir die eerste keer aangeplant in Griekeland. Die woord “aspersie” is afgelei van die Griekse woord vir stam.

Aspersies is bekend aan ons almal. Die aspersie stammetjies wat ons eet, groei direk uit die grond en dra klein blommetjies aan die bo-punte. Hierdie blommetjies maak uiteindelik rooi bessies wat die swart aspersiesaad dra.  Ons gebruik groen of wit aspersies in ons kookkuns. Aspersies bevat baie vitamines, kalsium, magnesium, fosfor, natrium, sink en het nog vele meer voedingstowwe wat baie goed is vir ons. Daar word ook beweer dat gereelde happies aspersie kan help om kankers te voorkom.

‘n Goed versorgde aspersiebedding kan jou familie vir tot 20 jaar van vars aspersies voorsien. Die aspersieplante vorm ‘n dik mat van lang, silindervormige wortels wat horisontaal versprei. Wanneer dit so een jaar oud is, word dit ‘n wortelkroon genoem. Dit verwys na die bopunte van die aspersies.

Die krone word gebruik om aspersieplantjies voort te plant. Plant hulle in slote wat omtrent ‘n halwe meter wyd is en plant hulle 15 cm diep en 30 cm uitmekaar. Plant aspersies in goed dreinerende grond. Indien aspersie se wortelstelsel na bo groei, bedek dit met ‘n goeie laag grond.  Dit gebeur soms wanneer aspersieplante ouer word.

Wit aspersies word heeltemal ondergronds gekweek, in die afwesigheid van lig. Dit het ‘n delikate geur en fyn tekstuur. Groen aspersies word in die buitelug gekweek en die groen kleur is te wyte aan die normale proses van chlorofilsintese wat in sonlig plaasvind. Dit het ‘n sterk geur en die kiemgedeelte is soet. Die groen aspersie is ook die enigste aspersie wat nie afgeskil hoef te word nie.

Tuiniers moet egter baie geduld hê om aspersies te plant. Dit neem jare om ‘n lekker bedding eetbare aspersies te pluk. Geniet u tuin en kom ons plant ons eie groentetuine aan. Dit is altyd vars en so heerlik om vir iemand van jou eie vars groente te pluk.

Geniet u tuin tot volgende keer.