ANC ontwrig Ventersdorp raadsvergadering

Die werksaamhede van die Tlokwe/Ventersdorp-munisipale raad word deur die ANC se goedkoop politiekery lamgelê en die gemeenskap van Potchefstroom en Ventersdorp ly daaronder, het Fanie du Toit, koukusleier van die VF Plus in die raad, na afloop van ʼn rampspoedige raadsvergadering gesê.

Die ANC-raadslede het die gewone raadsvergadering, waartydens belangrike sake van die raad bespreek moes word, ontwrig wat daartoe gelei het dat die vergadering verdaag het. Dit was weens die teenwoordigheid van die munisipale bestuurder, wie se aanstelling glo nie deur die ANC erken word nie.

Volgens Du Toit is dit bloot goedkoop politiekery, faksies en kaderontplooiing deur die ANC wat tot hierdie tipe konflik en onproduktiwiteit in die raad lei.

“Vorige raadsvergaderings is ook deur soortgelyke gedrag deur ANC-raadslede, sowel as ANC-ondersteuners in die galery ontwrig.

“Na afloop van die vorige vergadering het die VF Plus die burgemeester en speaker van die raad versoek om ʼn interdik teen die rampokkers te bekom ten einde die munisipaliteit se infrastruktuur, amptenare, raadslede en gemeenskap te beskerm.

“Daar is egter nie gehoor gegee aan hierdie versoek nie en is dit dus duidelik dat die bestuur van die munisipaliteit nie erns maak met die welstand van die gemeenskap en om wet en orde te handhaaf nie,” het Du Toit gesê.

Foto: Mnr. Fanie du Toit