AFD ondersteuners in die kalklig

Ondersteuners van die nasionalistiese “Alternatief vir Duitsland”, (AFD) het tydens ’n byeenkoms van kanselier Angela Merkel die kalklig gesteel terwyl sy gehoop het op ’n suksesvolle verkiesingsveldtog in Bitterfeld.

Die stad Bitterfeld gaan reeds vir geruime tyd deur ’n moeilike fase, en Merkel het klaarblyklik nie besef dat die AFD ’n sterk ondersteuningsbasis in die stad het nie.

Die stad het ’n enorme werkloosheid probleem waaraan die Merkel regering nie veel aandag gegee het nie, en die AFD het van die tekortkoming gebruik gemaak om sy ondersteunersbasis te vergroot.

Merkel se party het net ’n paar plakkate in die stad aangebring om haar vergadering bekend te maak, en die AFD het hulle ondersteuners opgeroep om die geleentheid by te woon, want Bitterfeld is AFD gebied.

Die AFD leier, dr. Petry, het reeds ’n paar dae tevore aangekom in die stad, en haar ondersteuners aangemoedig om betrokke te wees by Merkel se vergadering.

Met honderde vlae ’n slagspreuke op baniere het die AFD die byeenkoms oorheers en kon Angela Merkel nie haar boodskap met oortuiging oordra aan die toehoorders nie.

Slagspreuke soos “Gaan huis toe” en “Jy is onwelkom” is oral gesien, en was die byeenkoms ’n klaaglike mislukking van die CDU van kanselier Merkel.

Toe Merkel haar toespraak wy aan immigrante, het die koor van protes so luid opgeklink dat sy nie hoorbaar was nie.