Word skatryk in ruimte

Wetenskaplikes vermoed dat die mineralerykdom op ander planete so oorvloedig is dat dit lonend kan wees om robotte te ontwikkel om die myne te ontgin.

Dit is nog nie duidelik hoe bepaal kan word waar op ’n planeet die uitgrawings moet begin om die minerale te bereik wat onder die oppervlakte lê en wag om ontdek te word nie.

Planete het waarskynlik eeue gelede ’n saamstelling gehad wat soortgelyk is aan die aarde wat beteken dat daar heelwaarskynlik ’n massa diamante, goud en ander kosbare minerale gevorm het.

Die vermoede bestaan ook dat ander ewe duursame edelmetale gevind kan word wat tans nie aan die mensdom bekend is nie.

Deskundiges meen daar is planete wat veel groter is as die aarde en derhalwe bestaan die moontlikheid dat veel meer en selfs veel groter stene gevind kan word.

Die moontlikhede wat ander planete bied, kan dalk ’n motivering wees vir aardbewoners om dan tog die reis aan te pak na Mars waar die rykdom lê en wag…