Wolboere glimlag breed oor prys

Vir dekades is daar die gesegde dat ’n wolboer nie skatryk word nie, maar ook nie maklik bankrot sal raak nie.

Daardie ou waarheid van weleer kan nou ’n onwaarheid word, want met die nuwe wolprys is daar moontlikhede wat wolboere se beursies kan laat vol word.

Die eerste veiling van die nuwe seisoen is ’n redelike aanduiding dat die wolprys vanjaar skerp gaan styg en nie maklik sal daal nie.

Landbouers meen die tendens in die wêreldpolitiek speel ’n belangrike rol, en sodra daar politieke spanning tussen lande ontstaan, word die wolprys geraak en styg die aanvraag gewoonlik.

Die astronomiese styging in wolpryse wat met die eerste veiling ondervind is, het boere opgewonde gemaak, want skoon wol het met bykans 20% gestyg en is verhandel teen R184 per kilogram.

Suid-Afrika is bekend vir sy goeie gehalte wol, en die sterk vraag daarna sal waarskynlik die hele seisoen ondervind word, wat ’n belofte van uitstekende pryse beteken.

Wolboere het ’n moeilike tyd van erge droogte ondervind in 2015, en sekere dele het steeds nie goeie reëns gehad nie, en die styging in pryse kan boere help om gouer uit die skuldlas van die droogte te kom.