Wie gaan Mugabe opvolg?

Zimbabwe se presidentsvrou, Grace Mugabe het haar93-jarige man, president Robert Mugabe, versoek om te kies wie sy opvolger moet wees.

Die afgeleefde president het tot hede geweier om enige iemand aan te wys as moontlike opvolger, en het selfs aangekondig dat hy weer verkiesbaar is vir die volgende termyn as die land se Eerste Burger.

Grace Mugabe het glo vir haar eggenoot gesê hy moet nie bang wees om sy keuse bekend te maak tydens sy toespraak voor die lede van die vroue liga van die regerende SANU-PF party nie.

Robbert Mugabe was wel teenwoordig by die vergadering in Harare, maar het nie voldoen aan die versoek van sy vrou nie.

“Sê vir ons wie jou opvolger moet wees, en ons sal daardie perd van jou steun sodat dit die nuwe president kan word na jou uittrede”, het sy hom probeer beïnvloed, maar die president het geswyg soos die graf oor die saak.

Die president se 52-jarige eggenote, wat die vroue liga lei, het in die afgelope twee jaar ’n al sterker rol begin vervul. En bewerings word gemaak dat sy tans die land regeer alhoewel haar man di amptelike staatshoof is, maar tot weinig in staat is.

Kenners glo Grace wil hè die president moet aankondig dat sy as opvolger verkies moet word, maar die president is onrustig dat sy hom dan kan onttroon.