Wêreld Brugkampioenskappe

Die Wêreld Brugkampioenskappe vir spanne is tans in Lyon, Frankryk, aan die gang. Altesaam 112 lande (583 317 spelers) ding mee. Uiteraard kan almal nie gelyktydig deelneem nie en is uitdunne vooraf gehou om die getalle binne hanteerbare perke te hou. Brug is immers die grootste sportsoort wat die getal deelnemers betref. Wêreldwyd speel meer as ‘n miljoen mense brug.

Vir mense wat nie weet nie, brug is hoofsaaklik ‘n rekenkundige dinkspel wat streng wetenskaplik beheer word. ‘n Goeie geheue is ‘n groot voordeel. Geluk speel geen rol nie omdat elke span met presies dieselfde kaarte teen mekaar speel. Sodoende kan niemand sê dat hy swakker of sterker hande (kaarte) gekry het nie.

‘n Span bestaan uit ses spelers. Wat Suid-Afrika betref is die mansspan (ope) sowel as die seniors (bo 60 jaar) uitgeskakel voordat hulle die laaste sestien kon bereik. Suid-Afrika se vrouespan het nie gekwalifiseer om deel te neem nie. Dit is kommerwekkend, veral omdat min jonger spelers deesdae in die spel belangstel, terwyl die teenoorgestelde in ander lande gebeur.

Die laaste sestien spanne in elk van die drie klasse pak mekaar vanaf Maandag 21 Augustus 2017 om die wenners te beslis. Die voorlopers in hierdie stadium is:

Mans  –  Frankryk, Nederland, VSA

Vroue  –  Swede, Sjina, Rusland

Seniors  –  VSA, Frankryk, Italië

Enigiets kan egter nog gebeur omdat die sterkste spanne die geringste foute van hulle teenstanders uitbuit sonder die voorneme om self foute te maak.

Intussen word die Wêreld Rekenaarbrugkampioenskappe vanaf 19 Augustus tot 24 Augustus 2017 ook in Lyon gehou. Hier ding die agt beste programme teen mekaar mee en dit is jaarliks ‘n groot geleentheid omdat van die beste programskrywers van groot elektroniese maatskappye voltyds aandag hieraan gee. Bygesê, omdat rekenaars nie kan dink of oordeel gebruik nie kon die beste mensspelers steeds koning kraai. Brug is vir denkendes.