Waterwese in moeilikheid oor munisipaliteite

Die feit dat munisipaliteite nie hulle rekeninge betaal nie, is die rede dat die departement van waterwese in geldelike nood verkeer.

Dit is die verweer van die minister van waterwese en sanitasie, Nomvula Mokonyane, aan die staande komitee oor openbare rekeninge.

Sy moes voor die komitee verskyn oor R2,5 miljard se onregmatige uitgawes in 2015/16. Sy het daardie beskuldiging omseil met ‘n jammerklagte oor die munisipaliteite wat nie haar departement se projekte in werking stel nie.

Munisipaliteite skuld haar departement sowat R7 miljard en dit lyk nie of sy enige planne het om dit te verhaal nie.

Sy het ook erken dat hulle letterlik geld in die water gegooi het met projekte waarvan hulle vantevore geen waarborg gehad het dat dit sal werk nie, soos die Giyani waterprojek en die Mopani waterkrisis.

Die lede van die komitee was egter geensins oortuig dat dit net die munisipaliteite is wat blameer moet word vir die departement se geldkrisis nie.

Foto: Nomvule Mokonyane