Vyf VSA diplomate word doof in Kuba

Minstens vyf van die Amerikaanse diplomate wat in Kuba diens gedoen het, het ’n ernstige gehoorprobleem ontwikkel en uiteindelik doof geword.

Die gehoorprobleem het in die afgelope paar maande ontstaan en die diplomate is intussen teruggeroep na Amerika.

Die Amerikaanse owerheid wou egter nie die aangeleentheid oopvlek nie, en het slegs verklaar dat ’n paar diplomate weens gesondheidsredes teruggekeer het.

Anonieme bronne binne die diplomatieke diens van die VSA meld aan die persagentskap Associated Press dat ultrasoniese klanke vermoedelik die oorsaak is vir hulle doofheid.

Die ondersoek wat gedoen is, laat die vermoede bestaan dat die ultrasoniese klank, wat nie werklik gehoor kan word nie maar wel ernstige skade aan die gehoor kan aanrig, in die nabyheid van die Amerikaanse ambassade in Kuba geaktiveer is,

Dit is nie duidelik of die Kubaanse seine doelbewus geaktiveer is om Amerikaanse diplomate te benadeel nie.

Die VSA hou egter vol dat Kuba verantwoordelik is vir die laakbare daad, en het daarom besluit om so min as moontlik met die eiland te doen te hê wat deur Barack Obama omarm is.

Foto – Toneel in Kubaanse hoofstad