VSA skip vaar in Sjinese Suid See gebied

Beijing het sy stem dik gemaak nadat ’n oorlogskip van die Verenigde State naby die mensgemaakte eiland in die Sjinese Suid See gevaar het.

Die optrede van die Amerikaanse vloot volg terwyl president Donald Trump poog om Sjina te beweeg tot sterker optrede teen sy bondgenoot, Noord-Korea.

Die woordvoerder van die Sjinese minister van buitelandse sake, Geng Shuang, sê in ’n verklaring die keuse van Amerika om die roete te vaar “ondermyn die soewereiniteit van Sjina en bedreig die land se veiligheid.

Die oorlogskip, John S. McCain het blykbaar binne ses myl van die Mischief Reef gevaar wat juis ’n dispuut gebied is.

Amerika beskou die uitbreiding van Sjina se seegebied as ’n ontoelaatbare stap deur inbreuk te maak op die “vryheid van navigasie operasies” maar Sjina se standpunt is dat die mensgemaakte eiland wel gewettig word.

Sjina beskou die voorval as die verbreking van die internasionale wette en het ’n amptelike klag aan die VSA gestuur.

Die VSA wys egter daarop dat Sjina se oprigting van ’n mensgemaakte eiland, waar ’n vliegtuig landingstrook aangebring is, onwettig is en die ontevredenheid van verskeie lande soos Maleisië, Viëtnam, Taiwan en die Filippyne teweeggebring het.

Die lande stem saam dat die eiland met militêre toerusting daarop onwettig is, en dat dit die eis om steeds ’n 12 myl gebiedswaters vanaf die eiland op te eis, nie ingevolge die internasionale wet is nie.

Kenners wys daarop dat die VSA met die betreding van sy skepe in die nuwe 12 myl grens van Sjina juis as bewys dien dat die grens nie erken sal word nie.

Foto – Amerika se John S. McCain oorlogskip