VSA ondersoek Sjinese handelspolitiek

Amerika se mees senior handelsonderhandelaar het Sjina se industriële beleid as ’n “baie ernstige probleem” beskryf en president Donald Trump het die Sjinese daarvan beskuldig dat hulle die VSA met miljarde dollars kul.

Dit het daartoe gelei dat Washington verlede Vrydag ’n amptelike ondersoek gelas het na die Sjinese se beweerde kullery op die handelsgebied met die VSA.

Robert Lighthizer, die Amerikaanse handelsverteenwoordiger het gesê daar is talle aspekte wat deeglike ondersoeke regverdig.

Talle Amerikaanse maatskappye wat in Sjina hul handelsbedrywe beoefen, kla reeds vir jare oor die regering van die land klaarblyklik doelbewus nie daarin slaag om hulle vertroulike inligting te beskerm nie.

Die maatskappye het egter niks daaraan probeer doen nie uit vrees dat die kommunistiese regering teen hulle sou optree of selfs sou verban uit die land wat sou meebring dat hulle die potensiaal van ’n groot afset gebied kon verbeur.

President Trump het reeds gedurende verlede jaar se verkiesings veldtog gesê daar hang ernstige vraagtekens in die lug oor Sjina se handelspraktyke.

Die president het daarop gewys dat Sjina astronomiese bedrae geld uit Amerika trek maar wil nie werklik hulp verleen om Noord-Korea te verhinder om voort te gaan met sy kernwapen ontwikkeling nie.

Sjina het intussen gewaarsku dat hy nie sal stilsit as die VSA enige maatreëls toepas wat sy handel benadeel nie, en sal “gepaste maatreëls” toepas om sy belange te beskerm.

Amerika is Sjina se tweede grootste handelsvennoot en is kort op die hakke van die Europese Unie.