VSA is Sjina se grootste kliënt

Terwyl president Donald Trump van Amerika oorweeg om ondersoek in te stel na “onbillike handelspraktyke” wat deur Sjina beoefen word, toon die land ’n reuse handelsoorskot met Amerika.

Die Amerikaanse Departement van Ekonomiese Sake het pas ’n verslag vrygestel wat bevestig dat Sjina meer sake met die VSA doen as met enige ander land ter wêreld.

Volgens die departement se verslag het Sjina tot Junie vanjaar ’n totaal van 980 miljard euro se goedere gelewer, wat bevestig dat die VSA die Sjinese se grootste kliënt is, en dat dit reeds die afgelope nege jaar die geval was.

Alhoewel Sjina ook vir miljarde euro goedere invoer vanaf die VSA, bly sy uitvoere in geldwaarde meer, wat hom jaar na jaar ’n voordelige handelsoorskot verseker.

Deskundiges is egter bekommerd dat ’n handelsoorlog tussen die twee lande katastrofiese gevolge vir beide lande inhou, en met president Trump se voorneme om ondersoek in te stel na Sjina se “onbillike handelspraktyke” kan dit net die begin word van ’n bedeling wat die hele wêreld kan benadeel.