VSA en S-Korea begin militêre oefening

Terwyl die spanning tussen Amerika en die kommunistiese Noord-Korea op breekpunt was, het die Amerikaanse weermag en Suid-Korea met hulle jaarlikse gesamentlike oefening begin.

Die militêre oefening vind plaas te midde van Sjina se dringende versoek tot president Trump om nie die spanning verder te verhoog deur voort te gaan met die oefening nie.

Seoel en Washington het besluit om onder geen omstandighede geïntimideer te word deur die kommuniste nie, en het die projek selfs groter gemaak as wat aanvanklik beplan is.

Die tema van die oefening is om die twee lande se strategie aan te pas in geval van ’n militêre aanval vanaf Noord-Korea.

Intussen het Pyongyang ernstig beswaar aangeteken teen die militêre operasie en gesê die twee lande voer die situasie ’n stap nader aan ’n kernwapen oorlog en is besig om petrol op die vuur te gooi.

Waarnemers wys egter daarop dat Noord-Korea elke keer ’n dreigende houding inneem wanneer die twee lande met gesamentlike oefeninge begin, maar dat die kommuniste oor geen noemenswaardige mag beskik om die oefeninge te stop nie.

Die oefening het begin met 50 000 troepe van Suid-Korea wat saam met sowat 18 000 Amerikaners deelneem.

Die gesamentlike militêre oefening word jaarliks gedurende Augustus gehou waartydens moontlike scenario’s  ingeoefen word om veral Suid-Korea paraat te hou teen moontlike kommunistiese aggressie.