VF Plus stap uit raadsvergadering

Die VF Plus het uit ‘n raadsvergadering van die Matlosana munisipaliteit, wat Klerksdorp insluit,  gestap omdat die ANC-geleide raad ʼn aansuiweringsbegroting op ʼn partydige en ondemokratiese wyse wat strydig is met toepaslike wetgewing en die staande reëls en ordes van die raad wou deurdruk.

Die tirannie van die meerderheid in enige vorm van regering is ʼn onding en sal tot die ondergang van Suid-Afrika op alle vlakke van regering lei, het Michal Groenewald, VF Plus-raadslid in the Matlosana-plaaslike munisipaliteit en leier van die VF Plus in Noordwes, na afloop van die raadsvergadering gesê.

“Die ANC is so slu dat hulle as’t ware ʼn aansuiweringsbegroting goedgekeur het sonder dat enige besonderhede van die items wat aangesuiwer word aan die raadslede gegee is. Met ander woorde die raad het ʼn begroting goedgekeur sonder om te weet waarop die geld uitgegee is.”

Mnr. Groenewald het na afloop van die vergadering ʼn skrywe aan die waarnemende Speaker gerig waarin hy hom attent maak op die feit dat die Wet op Munisipale Finansiële Bestuur deur die raad in die goedkeuringsproses oortree is.

Hy het ook aangedui dat die Vryheidsfront Plus regsadvies sal inwin ten einde daardie raadslede wat vir die aansuiweringsbegroting en by implikasie versteekte ongemagtigde uitgawes gestem het, persoonlik aanspreeklik te hou.

“Die VF Plus sal hom nie laat intimideer deur ʼn partydige, outokratiese waarnemende Speaker wat ʼn ANC-agenda probeer deurdruk deur slegs sekere dele van die wetgewing toe te pas nie en eis dat die item weer op die agenda geplaas word vir behoorlike oorweging,” het Groenewald gesê.