Verwoestende brande woed landwyd

Verwoestende brande woed oor groot dele van die land, en word aangevuur deur sterk Augustuswinde wat waai.

In die Nigel-omgewing het ‘n vrou doodgebrand terwyl mnr. Dirk Lourens in die hospitaal opgeneem is met 35% brandwonde. ‘n Ander boer moes sowat honderd stuks vee van kant maak nadat hulle erg gebrand het.

Meer as 800 brandweerpersoneel van Working on Fire is ontplooi om landwyd sowat 44 vure die afgelope 24 uur te probeer blus.  Van hierdie vure was 12 in die Vrystaat, 11 in Oos-Transvaal, 9 in die PWV-gebied, 8 in Natal, twee in die Oos-Kaap en een elk in Noordwes en Noord-Transvaal.

In die meeste gevalle ontstaan die brande nadat mense roekeloos met vuur omgaan, en daar word vermoed dat dit in sekere gevalle moedswillig aangesteek word om veral boere skade te berokken.

Intussen is Afriforum se verslag oor die brande in Knysna met ongeloof begroet. Volgens Afriforum is die Knysna brande deur weerlig veroorsaak, terwyl Knysna se munisipaliteit kort tevore ‘n verslag van hulle forensiese ondersoeker vrygestel het waaruit dit duidelik geword het dat die brande deur menslike toedoen ontstaan het.