Venezuela verkiesing in hof betwis

Die hoof staatsaanklaer van Venezuela het die hof genader oor die uitslag van die verkiesing wat met bedrog verbind word.

Sy het ’n dag voordat die parlement sekere wysigings van die grondwet kon voorstel, ’n saak in die hooggeregshof aanhangig gemaak.

Die kantoor van die prokureur-generaal, Luisa Ortega Diaz, het aangekondig dat minstens twee staatsaanklaers haar span bystaan om die hofaansoek te hanteer ten einde die parlement te stop in hulle ywer om die nasionale grondwet te verander.

Die verkiesing van verlede week het getoon dat die verkiesingsraad gekonkel het met sowat een miljoen stemme wat nou deur die prokureur-generaal in die hof betwis sal word.

Die uitslag van die verkiesing sou aan die regering en president Nicolas Maduro die mandaat gee om die grondwet te wysig wat sy diktatoriale mag verder sou uitbrei.

Luisa Ortega Diaz staar egter een probleem in die gesig wat haar kan verhinder om ’n geslaagde hofsaak gevoer te kry, naamlik die feit dat die hooggeregshof redelik vriendelik optree teenoor die president en sy regering.

Foto – Luisa Ortega Diaz