Venezuela kongres verwerp magsoorname

Die demokratiese kongres in Venezuela het die poging van die regerende party van president Maduro verwerp en gesê dit is ’n poging om die demokrasie te vernietig.

Die kongres het beklemtoon dat die voorstelle beskou word as soortgelyk aan ’n “gewapende militêre diktatorskap”.

Die kongres se teenkanting is in lyn met die internasionale mening dat die pogings van die regering sal meebring dat die land se gewysigde grondwet die demokrasie finaal sal vernietig om plek te maak vir ’n diktatorskap.

Die land se eerste visepresident van die Nasionale Vergadering, Freddy Guevara, het die kongres se besluit aan die media oorgedra tydens ’n onderhoud in die hoofstad Caracas en gesê die besluite is met ’n oortuigende meerderheid geneem.

Venezuela se parlement word deur die opposisie beheer, maar die land word deur die president en sy kabinet regeer in ’n bestel wat hom leen aan die moontlike verskuiwing na ’n nie-demokratiese stelsel.

Die vermoede bestaan steeds dat die kommunistiese regime in Kuba die president ondersteun om die demokrasie te vernietig.

Waarnemers wys daarop dat die Nasionale vergadering se visepresident Freddy Guevara se sterk uitsprake teen die regering se planne om die land se grondwet te wysig, daartoe kan lei dat hy ook vervolg kan word en genoodsaak sal wees om asiel te soek in die buurland Columbië, soos wat die voormalige hoof aanklaer  verlede Vrydag moes doen.

Freddy Guevara het intussen ook ’n vergadering gehou met verteenwoordigers uit die VSA, die Europese Unie, Argentinië Chili, Kanada, Meksiko en Peru asook verskeie ander belanghebbendes.

Die lande het die regering daarvan beskuldig dat hulle met ongrondwetlike en geen legitieme reg het om die land se demokrasie te vernietig nie.

Of strenger sanksies teen die land ingestel gaan word, is nie bekend nie, maar die vermoede bestaan dat strenger maatreëls wel ingestel gaan word.