Vark organe meer veilig vir oorplanting

Wetenskaplikes verbonde aan die Universiteit van Harvard kon daarin slaag om genetiese “modifikasies” aan te bring by varke wat die diere se organe vry van skadelike virusse maak om na mense oor te plant.

Die nuwe deurbraak maak dit moontlik om suksesvolle orgaan oorplantings te doen wat duisende pasiënte se lewens kan verbeter.

Die wetenskaplikes meen die eerste oorplantings kan oor twee tot drie jaar gedoen word.

Wêreldwyd staan derduisende mense se name op waglyste om ’n nuwe orgaan soos hart, longe, lewer en niere te ontvang, en die vraag daarna word net al groter en oorskry die aanbod.

Vir baie jare is wetenskaplikes op soek na alternatiewe, en alhoewel die organe van die vark die beste oplossing is, kon die gevaar van virusse nog nie uitgeskakel word nie.

Met die jongste deurbraak, wil dit lyk asof daarin geslaag is om oor die belangrikste hekkie te kom.

In die wetenskaplike tydskrif  Science word berig dat die wetenskaplikes daarin kon slaag om skadelike virusse uit te skakel deur genetiese prosesse.

Die virusvrye dier word “gekweek” met ’n nuwe tegnologie waaruit die skadelike DNS uit die vark selle verwyder is.

Die eerste van die nuwe varkies is nou vier maande oud, en die wetenskaplikes is hoopvol dat die deurbraak tot groot verligting van baie mense kan lei.