Trump: Praat vir jou eie land Merkel

President Donald Trump het weereens getoon dat hy en die Duitse Bondskanselier, Angela Merkel, nie graag langs dieselfde vuur wil wees nie.

Hy het die Bondskanselier letterlik toegesnou nadat sy hom gemaan het tot kalmte oor die toenemende spanning met Noord-Korea.

Kanselier Merkel het die voorbeeld van Sjina en Rusland gevolg deur president Trump te maan tot kalmte om ’n oorlog met Kim Jong-Un te vermy, maar die president het in reaksie daarop gesê Angela Merkel moet maar praat vir Duitsland en nie vir Amerika nie.

Mev. Merkel het in ’n personderhoud gesê die oplossing vir die spanning tussen Amerika en Noord-Korea lê op die diplomatieke terrein om ’n krisis af te weer.

President Trump het skerp gereageer op Kim Jong-Un se waarskuwing dat hy die eiland Guam sal aanval met missiele om daarmee die VSA te waarsku dat ’n grootskaalse aanval op die VSA sal volg.

Politieke waarnemers sê die optrede van die Amerikaanse president toon weereens dat hy en die Duitse leier nie goeie betrekkinge handhaaf nie.

Trump het geen reaksie gehad op Sjina of Rusland se vermaninge nie, maar die reaksie op Duitsland se vermaning dui op ’n soort vyandigheid.

Op ’n vraag deur joernaliste, of Duitsland by Amerika sal staan indien ’n oorlog met Noord-Korea sou ontwikkel, het Merkel ’n direkte antwoord ontwyk en gesê “sy sien nie ’n werklike oorlog tussen die twee lande nie”.