Trump gooi petrol in die vuur

Die Amerikaanse president, Donald Trump, het getoon dat hy nie berou het oor sy skerp uitlating teenoor Noord-Korea toe hy die land gewaarsku het dat Amerika sal slaan op ’n wyse wat die wêreld nog nooit gesien het nie.

Die president het getoon dat hy ernstig is, en het selfs die vermaning van Sjina om die woordestryd te staak, geïgnoreer en ’n tweede keer skerp gereageer teen Kim Jong-Un.

In sy tweede aanval op Noord-Korea het hy gesê dit lyk of hy vroeër te sag gereageer het, maar die Amerikaanse minister van verdediging, James Mattis, het met sy onderhoud aan die media gepoog om ’n meer gematigde houding te vestig.

President Trump het egter vanaf sy vakansieoord gereageer en gesê dit het tyd geword dat iemand opkom vir die mense van Amerika en sy bondgenote, en daarom is dit net moontlik dat sy vorige verklaring nie “hard genoeg” was nie.

Trump sê die regime van Noord-Korea gaan “baie senuweeagtig word” as hulle iets wil doen teen Amerika, en beveel aan dat die land afsien van sy verdere dreigemente.

Hy het egter sy uitnodiging herhaal om met die kommuniste te onderhandel, maar Kim Kong-Un se woordvoerder het gesê daar is geen sprake dat sy land die kernprogram op die onderhandelingstafel sal sit nie.

Foto – Pres. Trump met Mike Pence agter hom