Terroriste hou duisende gevange

Amnestie Internasionaal het in hul jongste verslag bekendgemaak dat minstens 25 000 burgerlikes in die stad Raqqa in Sirië vasgevang is deur die Islamitiese Staat (IS) terroristebeweging.

Die berigskrywer vra dat die Verenigde State nie moet voortgaan met bombardering van die stad nie omdat te veel burgerlikes in gevaar is.

Die stad Raqqa word sedert 2014 grotendeels deur die terroristebeweging beheer, maar het swaar verliese gely deur aanvalle wat onder leiding van die VSA met vegvliegtuie uitgevoer is.

Die terroriste het Raqqa as hulle selfverklaarde hoofstad bestuur, maar die koalisiemag onder leiding van die VSA is besig om die stad geleidelik te herwin.

Die stryd word bemoeilik deur die terroriste wat burgerlikes as hulle lewendige skilde gebruik, waarvan jong kinders soms die slagoffers is.

Weermag woordvoerders meen die stryd om Raqqa te bevry van terroriste se beheer, kan nog baie lank duur, veral as gehoor gegee word aan die oproep van Amnestie Internasionaal om bombardering van die besette gebied te staak terwille van die burgerlikes.