Student ontwikkel ligte wasmasjien

Een van die grootste klagtes wat handelaars en verbruikers het oor wasmasjiene, is die toestel se groot gewig wat veroorsaak word deur die betonblok om te verseker dat dit nie rondspring wanneer gewas word nie.

’n Jong student van 22 jaar, Dylan Knight van Brittanje, is ’n student verbonde aan die universiteit van Nottingham, wat met ’n splinternuwe konsep gekom het om die swaar betonblok te vervang.

Wetenskaplikes beweer dat sy konsep duisende mense wat die wasmasjiene moet dra, se taak veel ligter gaan maak met sy nuwe konsep, en is heelwaarskynlik ook meer omgewingsvriendelik omdat beton nie meer gebruik word nie.

Enige persoon wat al self verhuis het, weet hoe moeilik dit is om die wasmasjien te verskuif na die nuwe woonplek, en die swaar toestel kan met die nuwe konsep met soveel as 25 kilogram ligter gemaak word.

Die betonblok aan die onderkant van ’n wasmasjien is egter nodig om te verseker dat dit nie deur die vertrek rondstap wanneer wasgoed gewas word nie.

Knight het ’n wasmasjien ontwerp wat sonder ’n blok beton is, en in plek daarvan word die spasie opgeneem met skoon water wat invloei nadat die masjien op sy plek staan en gekoppel word.

Die waterbak is verwyderbaar, en wanneer die masjien na ’n ander plek verskuif moet word, kan die waterbak eers leeg getap word voor dit vervoer word.

Die plastiese waterhouer wat roesbestand is weeg 3 kilogram, en die water weeg meer as 25 kilogram, wat maak dat die wasmasjien doodstil staan.

In Brittanje word jaarliks sowat 3,5 miljoen wasmasjiene verkoop, en die jong student gaan sy deel uit die wins verhaal.