Sjina en Rusland help Noord-Korea

Die Amerikaanse regering het ’n ondersoek gelas na die bedrywighede van Rusland en Sjina en bevind dat die twee lande verantwoordelik is vir die vinnige vordering wat Noord-Korea getoon het met sy kernwapen program.

Die gevolg is dat die VSA minstens 16 Sjinese en Russiese entiteite geïdentifiseer het wat ’n beduidende rol gespeel het in Noord-Korea se wapen ontwikkelingsprogram.

Die ondersoek hang saam met dié wat deur die Verenigde Nasies gedoen is oor die kernprogram van Noord-Korea en hul versending van goedere na Sirië.

Die VSA het derhalwe sanksies ingestel teen die 16 instansies wat skakel met Noord-Korea se kernwapen ontwikkelingsprogram.

Die Amerikaanse minister van finansies, Steven Mnuchin, sê die sanksies sal verdere druk plaas op Noord-Korea wat reeds die afgelope week stil geword en geen toetse uitgevoer het nie.

Die minister het gesê dit is onaanvaarbaar dat regerings, maatskappye, en individuele instansies in Rusland en Sjina meedoen om Noord-Korea by te staan in sy kernwapen ontwikkeling.