Siriese soldate verdryf IS terroriste

Die soldate van die Siriese regime het ’n klinkende oorwinning behaal in die sleutelgebied van Sukhna wat tot hede deur die Islamitiese Staat terroriste beheer was.

Die gebied vorm ’n sleutel deurgang na Raqqa, wat deur die IS leiers as hulle “amptelike hoofstad” beskou word.

Kenners meen die oorwinning teen die terroriste kan die stryd om herwinning van Raqqa bespoedig, en hernude gevegte het reeds losgebars in die buitewyke van Raqqa.

Sukhna is herwin nadat die Siriese magte met swaar artillerie tesame met Russiese lugaanvalle die terroriste gedood het en talle genoop was om te vlug.

Die dorp Sukhna is sowat 50 kilometer weg van die geskiedkundige Palmyra wat vroeër deur die terroriste gesaboteer is.

Die Siriese soldate het met hulle swaar artillerie die een kant van die dorp gebombardeer terwyl Russiese vegvliegtuie twee ander kante aangeval het.

Sukhna is die laaste belangrike vesting op die roete van die Islamities beheerde gebiede, en die terroriste se nederlaag word as ’n geweldige groot terugslag vir hulle beskou.

Die Islamitiese Staat in Sirië vorm deesdae ’n onderafdeling van Al Kaïda wat die gevaarlikste en wreedaardigste terreurgroep in die wêreld is.

Sukhna is geleë in die provinsie Deir el-Zour, wat grotendeels beheer word deur die IS terroriste en vorm ’n skakel met die IS beheerde gebied in Irak.

Die groot verliese wat die terroriste in die afgelope maande gely het deur die optrede van veral die Koerdiese soldate, het die IS ook in ’n oorlewingskrisis gedompel.