Siërra Leone pleit vir hulp na ramp

Die president van Siërra Leone het om hulp gevra nadat meer as 500 mense omgekom het in ’n modderstorting na hewige reën die gebied geteister het.

Swaar reënbuie het die stortings veroorsaak in die omgewing van die hoofstad, Freetown, waar reddingswerkers reeds honderde lyke onder die modder gehaal het.

Die president, Ernest Bai Koroma, het met moeite sy emosies in toom gehou toe hy die wêreld gevra het om hulp te gee na die tragiese gebeure in sy land.

Hy sê daar in kleiner gemeenskappe in die omgewing wat totaal uitgewis is terwyl honderde al hulle eiendom verloor het.

Die ramp het ’n wye gebied getref na meer as drie dae se onophoudelike reën wat neergegiet het en deur sommiges beskryf is as ’n massiewe wolkbreuk wat dae lank geduur het.

Weermag woordvoerders meen die dodetal sal nog verder styg aangesien daar nog gebiede is waar reddingswerk gedoen moet word.

Die Rooi Kruis het egter aangekondig dat meer as 600 mense gesoek word wat die dodetal vêr meer as ’n 1 000 kan laat styg as hulle nie lewend gevind word nie.

’n Reddingsorganisasie het later beweer dat die moontlikheid nie uitgesluit is nie dat meer as 3 000 mense omgekom het wat tot hede nog vermis word.