Sheena’s Gold / Duranta erecta

Hierdie is ‘n baie bekende struik in baie van ons tuine. Dit vertoon altyd soos ‘n prentjie. Dit is in die familie Verbenaceae. Sheena’s Gold groei vinnig en kan ook in houers op die patio geplant word en in mooi vorms gesnoei word. Dit is ‘n ornamentele struik.

Hierdie struik is so gewild omdat ons dit in soveel verskillende vorms kan snoei en dit kan ook as ‘n heining dien.  Dit is ‘n klein tot medium grootte struik wat helder geel/groen blaartjies dra. Sheena’s Gold groei baie goed in vol son of ligte skadu. Dit word 3 – 4 meter hoog indien dit nie gesnoei word nie.

Gedurende die lente en somer dra dit klein blou/pers blommetjies en daarna maak dit saadjies. Hierdie saad sit aan weerskante van die kort takkie waaraan die blommetjies gedra het. Die saadjies is groen en verander na heldergeel wanneer hulle ryp is. Die takke van die struik is lank en buigbaar en dit vertoon grys tussen die blare.  Dit dra weelderig blommetjies en ook saadjies wat baie voëls en skoenlappers na die tuin sal lok.

Indien dit direk in die grond geplant word, moet die gat redelik groot wees want hy het ‘n sterk wortelstelsel. Die wortels is roomkleurig. Gebruik goeie kompos en beenmeel wanneer u een van hierdie struike plant. Sheena’s Gold hou nogal van water. Indien hulle te droog word sal die blare verlep en die struik sal die blare verloor. Hulle is rypgevoelig en moet dus in die winter bietjie beskermd wees teen die erge koue en ryp. Voed hulle in die lente.