Robotte word bedreiging vir mensdom

Die tegnologiese ontwikkeling wat ook die verbetering van robotte insluit, is nie net ’n toekomstige bedreiging vir die mensdom deur werkloosheid te verhoog nie, maar kan ook ’n gevaarlike moordenaar word wat die mens uitwis.

Dit is die waarskuwing van wetenskaplikes nadat verskeie robotte intussen vervaardig is wat nie net monsteragtig is in voorkoms nie, maar ook oor die vermoë beskik om as soldate in ’n oorlog te veg.

Leiers op die gebied van robot ontwikkeling vra noudat veiligheidsmaatreëls opgestel word om ’n destabilisering van die mens se leefwyse te verhoed.

Indien die maatreëls nie op internasionale vlak aanvaar word nie, kan die toestand ontwikkel wat nie weer omgedraai sal word nie, wat ’n selfvernietiging van die mensdom kan beteken.

Meer as 100 leiers in die industrie van kunsmatige intelligensie (AI) en robot ontwerpers het in ’n ope brief aan die Verenigde Nasies gewaarsku teen die gevaar van ’n “derde revolusie” in oorlogvoering.

Belangrike persone wat die byeenkoms bygewoon het, en wêreldbekend is vir hulle tegnologiese vermoë soos Elon Musk van SpaceX en die grootbaas van Google, Mustafa Suleyman, het die brief ook onderteken.

Deskundiges wys daarop dat robotte vervaardig kan word om as terroriste diens te verrig en nie net die mensdom vermoor nie, maar kan ook sy totale infrastruktuur vernietig.