Robert McBride uit op borg: skors hom

Robert McBride, die omstrede hoof van die Onafhanklike Ondersoek Direktoraat, is op R10 000 borgtog vrygelaat en moet op 2 Oktober 2017 weer in die hof verskyn.

Die voorheen veroordeelde bomplanter se arrestasie en verskyning in die hof spruit uit ‘n voorval waar hy sy minderjarige dogter sou aangerand het en haar na bewering gewurg het.

Hy is aangekla op oortreding van die Kinderwet.

Intussen eis VF Plus dat die minister van polisie, Fikile Mbalula, dadelik moet optree en  McBride skors hangende die afhandeling van die saak.

Dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus, sê die feit dat die hof borgtog van R10 000 aan McBride toegestaan het, is ʼn aanduiding dat dit ʼn baie ernstige saak is aangesien die bedrag hoog is vir ʼn aanrandingsaak.

“McBride is in ʼn posisie waar verskillende bronne tot sy beskikking is en ondersoekbeamptes in sy saak kan maklik geïntimideer en onbehoorlik beïnvloed word. Hy moet daarom onverwyld geskors word totdat die saak afgehandel is.

“McBride was vinnig om te vra dat die vorige waarnemende nasionale polisiekommissaris lt.genl. Khomotso Phahlane geskors moet word totdat die ondersoek teen hom afgehandel is. Dubbele standaarde kan nie toegelaat word nie en die minister moet McBride daarom onmiddellik skors,” sê dr. Groenewald.