Regter bevind OB se optrede onwettig

Regter John Murphy het ‘n paar klappe uitgedeel aan die nuwe Openbare Beskermer wat deur Jacob Zuma aangestel is.

Die hof het bevind dat haar optrede in die Bankorp reddingsboei ondersoek  onregverdig was en dat sy die reputasie van haar kantoor beswadder het.

Dit volg nadat die Reserwebank aansoek gedoen het dat die OB se remediërende aksie rondom die sentrale bank se mandaat hersien moet word.  Die advokaat het aanvanklik haar verslag verdedig maar het haar teenaansoek teen die Reserwebank se aansoek teruggetrek.

Die regter het verder bevind dat haar optrede die resultaat was dat die ekonomie van die land daaronder gelei het en verder gesê dat die OB se verslag onwettig, irrasioneel en prosedureel onbillik was.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor finansies, het die hofuitspraak verwelkom en gesê die OB het haar magte oorskry om kommentaar te lewer oor die wysiging van die Grondwet wat sy veronderstel is om te beskerm en om die regte daarin vervat te bevorder.

“Dit is wel verblydend dat die OB dit wel uiteindelik besef het en nie die Reserwebank se aansoek tot die hooggeregshof om haar verslag tersyde te stel geopponeer het nie.

“Die OB het nou ʼn geleentheid om haar mandaat van meet af uit te voer sonder om politieke uitsprake self te maak, ongeag haar eie siening van sake. Haar plig is nou om haar grondwetlike mandaat uit te voer en al die sake met betrekking tot staatskaping sonder vooroordeel te ondersoek,” sê adv. Alberts.