Poolse politiek kry nuwe wending

Die politiek kan ’n nuwe dimensie binnegaan in Pole nadat president Duda sy vetomag gebruik het om twee van die regering se juridiese hervormingswette te kelder.

Die nasionalistiese volksparty kan met die president se optrede, in twee kampe verdeel wat die opposisieparty aan bewind sal stel.

Die Reg en Geregtigheid Party is erg verdeeld oor die verloop van sake, en die opposisie maak voluit gebruik van die verdeeldheid om die party se moontlike skeuring aan te help.

Intussen het die regering hewige kritiek gekry toe kragvoorsiening weens ongekende storms afgesny is en meer as 3 500 wonings geraak is in die noorde van die land.

Dit het drie dae geneem voor die kragtoevoer herstel is, en in die tyd het minstens ses mense omgekom wat afhanklik was van elektriese krag weens hul gesondheidstoestand.

Die hewige storms het meer as 4 000 woonhuise beskadig en talle is geheel en al vernietig terwyl duisende bome ontwortel is.

Die opposisieparty het van die geleentheid gebruik gemaak om die regerende party skerp te kritiseer oor sy onvermoë om die kragtoevoer vinnig te herstel en maak daarvan ’n politieke speelbal.

Die Reg en Geregtigheid Party is nog nie twee jaar aan bewind in Pole nie, en die opposisieparty probeer alles wat verkeerd gaan in die land, om die nek van die regering hang.

Intussen het die woordvoerder van die regerende party in ’n mediaverklaring die kiesers verseker daarvan dat daar geen oorlog onder die partyleiers is nie en dat die regering in eensgesindheid voortbeweeg.

Hy het bygevoeg dat die ongekende stormweer in Pole wel ’n lang kragonderbreking veroorsaak het, maar die regering het alles moontlik gedoen om die krag te herstel wat op talle plekke afgesny was en die opposisie gedaag om te sê wat hulle sou gedoen het om die krag gouer te herstel.

Foto – President Andrzej  Duda