Ondersoeker erken KFC voorval was nie rasgedrewe

Dit lyk of die werklike storie agter die skeefgetrekte mediabohaai oor die sogenaamde KFC-voorval, stuk-stuk geopenbaar word.

Tydens die borgverhoor van die vyf blanke mans wat al deur die media verguis is as rassiste wat ‘n swart paartjie gedreig en skynbaar selfs ‘n klap of twee gegee het, moes die ondersoekbeampte op talle stellings beaam dat dit nie rasgedrewe was nie. Nietemin staan adjudant-offisier Ravi Naidoo van die Sinoville-polisiekantoor, die mans se borg teen omdat rasgedrewe voorvalle ‘n prioriteit is en daardie mense in aanhouding moet bly.

Dit blyk volgens dat die Sinoville-polisiekantoor verskillende maatstawwe gebruik by sake waar verskillende rasse betrokke is.

Mnr. Nols Nolte, een van die beskuldigdes se prokureur, het dit aan Naidoo gestel dat dit geen rassevoorval is nie, maar bloot ’n voorval waar die klaer swart en die verdagtes wit is. Naido hou egter vol dat dit ‘n rassevoorval is omdat die klaers swart en die verdagtes wit is.

Die mans staan onder andere tereg op klagte van die rig van ‘n vuurwapen, maar dit blyk dat Naidoo nie eens die wapen ondersoek of gekonfiskeer het nie. Dit blyk ‘n skadelose BB-pistool te wees.

Adv. Sas Erasmus, wat vir ‘n ander beskuldigde verskyn, het vir Naidoo gevra of daar enige feit is om die twiet van die minister van polisie, Fikile Mbalula, te staaf dat die beskuldigdes deel is van ’n rassistiese bende wat rondhardloop en swart mense aanrand. Naidoo moes toegee daar is geen bewyse voor nie.

Skynbaar het die klaer in die saak, ene Sono, vir moeilikheid gesoek en was so aggressief dat hy deur ’n veiligheidswag en sy vrou gevra is om terug te klim in die kar. Mev. Sono het skynbaar een van die blanke mans eerste met die vuis bygedam.

Ook hieroor moes Naidoo  toegee dat dit nie rassisties klink nie.

Mnr. Erasmus het die konsekwentheid met die hantering van sake waarin verskillende rasse betrokke is ernstig bevraagteken en verwys na die voorval waar ‘n blanke motoris met bakstene toegetakel is deur taxibestuurders, en selfs nie deur metropolisielede gehelp is nie. Niemand is in daardie rassevoorval nog gearresteer nie.