Nuwe aandrywing vir voertuie word ontwikkel

Nyweraars in Duitsland is nie daarvan oortuig dat elektries aangedrewe voertuie die enigste antwoord is vir die toekoms van die industrie nie.

Groot nyweraars het onlangs begin met ’n veldtog om die vervaardiging van sintetiese brandstof te beklemtoon wat in dieselvoertuie gebruik kan word sonder om lug te besoedel of om die binnebrandmasjien te beskadig.

Die nyweraars reken dit is haalbaar en beteken dat die binnebrandmasjien nog vir baie dekades in voertuie gebruik sal word, en kan veral die voortbestaan van vragmotors en busse verseker, wat nog nie met elektriese aandrywing bemeester kan word nie.

Te veel mense in die sakewêreld van Duitsland is vasbeslote om nie bes te gee met die binnebrandmasjien nie, maar kundiges wys daarop dat dit waarskynlik gaan oor die instandhouding van voertuie wat verval met die koms van elektries motorvoertuie wat baie min onderhoudskoste het.

Die nyweraars sê ’n sintetiese “e-brandstof” wat diesel vervang, kan grootskaalse werkloosheid bekamp en verseker dat besoedeling nie plaasvind nie.

Motorvervaardigers is egter klaar ingestel op die vervaardiging van elektriese voertuie, terwyl talle instansies ook verdere navorsing doen oor die vermoë om batterye vir die voertuig verder te verbeter.