Nog ‘n Zuma in die sop

Nog ‘n seun van ANC-leier, Jacob Zuma, is in die moeilikheid oor haatspraak.

Edward Zuma het in ‘n ope brief die voormalige minister van finansies, Pravin Gordhan ‘n marionet van wit monopoliekapitaal genoem.  Hy het ook die voormalige minister van toerisme, Derek Hanekom, ‘n Afrikaner huursoldaat genoem.

Die VF Plus het ʼn ultimatum aan die MRK gestel om teen komende Vrydag 4 Augustus teen Edward Zuma op te tree en hom na die Gelykheidshof te neem. Indien dit nie gebeur nie, sal die VF Plus die MRK aangee by die Openbare Beskermer (OB) weens die wanbestuur van fondse deur sake selektief te ondersoek en sodoende belastinggeld te misbruik.

Selfs die ANC in Natal het Edward tot vandag tyd gegee om sy uitlatings terug te trek en om verskoning te vra.

Dit wil egter voorkom of die MRK nie lus is om aan die VF Plus se eis te voldoen nie.   Die MRK het hom vroeër ook gevra om sy verklaring terug te trek. Hulle het gedreig om teen hom op te tree as hy nie aan die versoek gehoor gee nie. Dit beteken dat indien hy ‘n verskoning aanbied, hy waarskynlik daarmee gaan wegkom.

Die VF Plus gaan op sy beurt nie die MRK daarmee aat wegkom nie, en dreig om ook ʼn klag teen die MRK in te dien by die Verenigde Nasies se hoëkommissaris vir Menseregte ingevolge die Parys-Beginsels wat deur Suid-Afrika ondersteun word en wat die werksaamhede van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie rig.

Adv. Anton Alberts, voorsitter van die VF Plus, sê dit is nou duidelik dat die internasionale beginsels verbreek word wat vereis dat alle menseregte beskerm en bevorder moet word.

“Daar is geen twyfel nie dat Edward Zuma se uitsprake haatspraak daarstel en deur hom nie te vervolg nie is die MRK besig om die mense van Suid-Afrika in die steek te laat. Dit kan nie langer geduld word nie.

“Die skokkende rassistiese uitlatings van Edward Zuma, pres. Jacob Zuma se seun, en die MRK se ewe skokkende besluit om hom grasie te gee om ‘verskoning’ daarvoor te vra, kan geen twyfel meer laat nie dat die MRK self op rasgegronde wyse selektief optree na voorvalle van rassisme,” sê adv. Alberts.

Foto: Edward Zuma en sy pa Jacob