Motorrubriek – Mazda3 Astina Plus

 

Die Mazda Astina Plus vir 2017 is een van die luikrug motors wat dadelik aandag trek waar dit ookal op die pad beweeg. In besonder wanneer dit vanaf die sykant bekyk word.

Die vloeiende lyne met die agterligte wat duidelik sigbaar is van die kant, die nuut ontwerpte allooi wielnawe, die flikkerligte wat in die sykant spieëls diens doen en die voorligte wat deel vorm van die voorste wielboë. Die nuwe Mazda embleem op die sierrooster is effe kleiner as in die verlede maar dit gee eintlik ‘n beter geheel beeld van die voorste neus gedeelte. Die kolligte wat in die onderste gedeelte van die voorste stamper gemonteer is sorg dat die pad in die nag behoorlik verlig word wanneer die lang pad aangepak word.

Spoedbeheer is in individuele motors gemonteer en ‘n nuwe beheer stelsel genaamd “G-Vectoring Control(GVC)” maak deel uit van die nuutste Astina. Wat dit ‘n besonderse stelsel maak is dat wanneer daar byvoorbeeld na links gedraai word, word daar bykomende enjin krag na die regter voorwiel oorgedra en dit vergemaklik die draai beweging en verseker beter padhouvermoë en stabiliteit. Dieselfde geld wanneer daar na regs gedraai word. Dan word daar meer enjin krag oorgedra na die linker voorwiel. Hierdie aksie vind plaas in minder as 50 millisekondes. Die GVC stelsel monitor die snelheid, die brandstof pedaal posisie en die grade van die stuurwiel posisie. Selfs wanneer die stuurwiel posisie slegs vir ‘n baie klein gedeelte verander, tree die stelsel in werking.

Die binne-afwerking is aangepas en die instrumente is reg voor die bestuurder gemonteer en maklik leesbaar. ‘n Enkel groot instrument bevat die spoedmeter, toereteller ensovoorts. Slegs enkele funksies word deur “aanraak” beheer maar die meeste funksies word deur draai-skakelaars beheer en skakelaars wat op die middelste konsole gemonteer is.

‘n 1998 kub. sentimeter, vier silinder dubbel oorhoofse nokas kragbron word ingespan en die krag oordrag na die voorwiele vind plaas by wyse van ‘n sesspoed outomatiese ratkas en die oorskakeling vind seepglad plaas. Die lepels agter die stuurwiel kan gebruik word maar dit bly maar steeds ‘n plesier om in beheer van alles te wees. Die dubbele uitlaat pype aan die agterkant vertel hulle eie storie en wanneer al die “perde”, 121 kW en 210 Nm ingespan word, is die motor in staat om van 0 tot 100km/u te versnel in 9.0 sekondes en die topsnelheid is volgens die vervaardiger 198 km/u. Die brandstofverbruik  volgens die vervaardiger is 6,8 l/100 km.

Die luikrug model is 120 mm korter as die sedan motor met die gevolg dat die bagasieruim 100 liter minder bagasie neem as die sedan. Dit neem 308 liter se bagasie. Dit is nie moeilik om die bagasie te laai nie want die bagasieruim se laagste punt is 68 sentimeter bo die grond en is 9 sentimeter diep. Wanneer daar in die aand bagasie gelaai moet word is daar ‘n binneliggie wat lig verskaf en indien nog meer pakplek benodig word, kan die 60:40 sitplek leunings plat gevou word deur ‘n arm wat op ‘n gemaklike plek gemonteer is, te trek.

Die sitplekke vir al die insittendes is gerieflik en ‘n gemaklike sit posisie kan maklik ingeneem word deur die bestuurder want die bestuurder se sitplek het verskeie verstelling posisies. Dit alles geskryf word u uitgenooi om dit vir ‘n toetsrit te neem en u te vergewis van al die motor se “talente”.