Motorrubriek – Ford Fiesta ST200

 

Een van Ford se produkte wat baie gewild is, is die Fiesta ST. Hierdie is ‘n blitsbuks in die ware sin van die woord en met die beperkte hoeveelheid ST200 wat nou beskikbaar is, gaan die Ford nog meer gewild wees.

Slegs 160 van hierdie weergawe gaan beskikbaar gestel word en die Ford liefhebbers wat een gaan kan aankoop, gaan baie gelukkig wees. Dit is slegs beskikbaar in een kleur naamlik “Storm Grey” en dit met die sierlike vloeiende buitelyne, die twee kleur allooi wielvellings en rooi rem knypers, verseker dat dit uitstaan in die B – segment motor reeks.

In vergelyking met die gewone ST is die turbo aangejaagde kragbron van die ST200 in staat om 11 kW meer krag te voorsien en die wringkrag is 30 Nm meer as die van die ST. Hierdie aansienlike verhogings sorg dat dit in staat is om van 0 tot 100 km/u te versnel in 7,3 sekondes terwyl die maksimum snelheid 230 km/u is.

Die ses spoed handratkas sorg dat die krag na die voorwiele oorgedra word en die ST200 is eintlik in sy element wanneer dit in bergwêreld gebruik word want dan kan die krag aangewend word om makliker deur die draaie te beweeg. Die stewige onderstel sorg dat die padgedrag van hoogstaande gehalte is. ‘n Bydraende faktor is die veerstelsel wat opgegradeer is deur gebruik te maak van ‘n stywer wringstaaf by die voor en agterwiele terwyl die spiraalvere se spanning verminder is en hierdie kombinasie het tot gevolg dat die rit van ‘n baie hoë standaard is.

Binne in die voertuig word daar gebruik gemaak van Recaro, verhitte, voorste sitplekke met die verstellings wat van so ‘n aard is dat die bestuurder ‘n gerieflike en gemaklike sitposisie kan inneem terwyl daar meer as genoeg plek is vir die agterste passasiers met lang bene. Die maklik leesbare instrumente is reg voor die bestuurder gemonteer met die aanraakskerm in die middel van die instrument paneel. Die kort rathefboom is binne maklike bereikbare afstand van die bestuurder en pas gemaklik in die linkerhand van die bestuurder. Alle ander toerusting soos ‘n radio, lugversorger, lugsakke en twee kleur veiligheidsgordels rond die binne prentjie af.

Aan die agterkant word LED ligte gebruik en ‘n drukvlerk sorg dat die afronding aan die agterkant na wense is. ‘n Dubbel uitlaat pyp aan die regterkant sorg dat daar geen onsekerheid bestaan oor wat onder die enjinkap gebeur nie. Aan die voorkant is die kolligte in die onderste gedeelte van die bak gemonteer en die hoofligte vorm deel van die voorste modderskerms. Die rem veiligheid is nie agterweë gelaat nie en ABS remme met alle moontlike ondersteuning maak deel uit daarvan.

Hierdie is die ideale motor vir Ford liefhebbers met “petrol” in hulle are en indien u ‘n nuwe motor moet aanskaf kan u dit gerus vir ‘n toetsrit gaan neem.