Motorrubriek – Ford Everest 2.2 XLS awd

 

Die vorige reeks Ford Everest het slegs uit twee modelle bestaan en in beide voertuie was dieselfde grootte kragbron gebruik naamlik ‘n 3,2 liter diesel enjin, vier wiel aandrywing met ‘n outomatiese ratkas gepas.

In die nuwe reeks is daar agt verskillende modelle beskikbaar en daar kan dus ‘n groter keuse uitgeoefen word. In vyf in die reeks is daar 2.2 liter TDGCi kragbronne met of ‘n outomatiese of handratkas gepas en in die res is die 3.2 liter enjins gepas met slegs ‘n outomatiese ratkas gepas.

Die voertuig met die handratkas in die reeks is die 2.2 XLS awd. Hierdie voertuig het, alhoewel dit die basiese voertuig is, daar nog steeds ‘n wye reeks toerusting ingebou. Onder hierdie toerusting tel van die volgende handige toerusting naamlik blinde kol aanduiding,leer bekleedsel vir die sitplekke,elektries beheerde sitplek verstelling, outomatiese temperatuur beheer, spoedbeheer, outomatiese reën aanskakel windskerm veërs, parkeer hulp sensors, outomatiese binne spieël verdoffing en nog ander handige toerusting.

Ander handige toerusting is die vermoë om wanneer dit nodig is om byvoorbeeld in los sand te ry, skakel dit outomatiese oor na vier wielaandrywing. Dit vind plaas, in ag genome die aanvraag van wringkrag na byvoorbeeld die agter as. Wanneer dit egter gebeur, word die bestuurder elektronies versoek om oor te skakel na 4LO. Terselfdertyd sluit dit die ratkas in eerste rat maar dit is slegs nodig in buitengewone omstandighede.

Die grondvry hoogte van 225 mm verseker dat moeilike terrein met min moeite besoek kan word en die bykans onbeperkte beweging van die spiraalvere en voor en agter as, dra daartoe by dat al vier wiele omtrent te alle tye in aanraking is met die pad. 225/65 R alle terrein bande is gepas met die oog daarop dat enige tyd kan ruwe terrein besoek word.

Die Everest is gebaseer op die Ranger en so is die noodwiel agter aan die onderkant van die voertuig gemonteer en die gereedskap word in ‘n afsonderlike kompartement bokant die noodwiel gestoor. Die sesde en sewende ry sitplekke kan in die vloer gestoor word wat die bagasieruim aansienlik vergroot. Ten einde meer plek beskikbaar te stel vir die tweede ry sitplekke se passasiers, kan die sitplekke vorentoe en agter toe geskuif word. Die veiligheids aspek is nie agterweë gelaat nie en daar is ses lugsakke binne in die voertuig gemonteer, veiligheidsgordels is deel van die veiligheid terwyl ABS remme standaard gemonteer is met skyfremme voor en agter. Wanneer die voertuig binne gegaan word is daar handvatsels aan die bokant binne in die voertuig gemonteer waaraan jy kan vashou. Dakliggies voorsien in die aand lig om in te klim en die radio kan laserskywe neem en daar is meer as genoeg klein rakkies vir bykomende pakplek.

Buite en binne afwerking is van ‘n baie hoë standaard met tru parkeer kamera gemonteer,  kolligte is in die onderste deel van die stamper gemonteer en ‘n sleepstang is opsioneel maar daar is voorsiening gemaak vir die elektriese prop waar die sleepwa of woonwa ingeprop kan word.

Hierdie is die ideale voertuig vir natuur liefhebbers en indien dit oorweeg word om so ‘n voertuig vir daardie doel en ander aan te skaf kan u gerus u naaste Ford handelaar gaan besoek.