Motorrubriek – Fiat Tipo 1.4 Pop Hatchback

 

Fiat is een van die oudste motors in die motor mark en bekend daarvoor dat dit ‘n betroubare motor is wat selfs in die tydren wêreld sy nalatenskap bewys het.

Die Tipo 1.4 Pop is bykans ‘n basiese motor maar alle nodige toerusting is gepas soos byvoorbeeld ‘n radio, ‘n ses spoed handratkas, 16 duim staal wielnawe met wieldoppe, elektroniese stabiliteitsbeheer, twee lugsakke, lugversorger, elektries beheerde buite spieëls en vensters, kolligte agter en ‘n banddruk beheer stelsel. Daar is egter ‘n reeks van agt beskikbaar waaruit ‘n keuse gemaak kan word. In van hierdie motors is 1400 kub. sentimeter kragbronne gepas en dan is daar motors waarin 1600 kub. sentimeter kragbronne gepas is. Bykomende toerusting wat op aanvraag beskikbaar gestel word is kolligte aan die voorkant, spoedbeheer en hoogte verstelling vir die bestuurder se sitplek en waarskuwing sensors agter om te verseker dat jy nie die motor per abuis stamp wanneer jy parkeer nie. Die afwerking is van hoogstaande gehalte en alhoewel dit n’ basiese motor is, staan dit nie terug vir die kompetisie nie.

Agterste passasiers het genoeg been en voet spasie en daar is meer as genoeg plek vir langer passasiers. Grondvry hoogte is 150mm wat beteken dat daar met gemak  stedelike spoedwalle genader kan word.

Die betroubare 1368 kub. sentimeter, vier silinder, 16 klep, inlyn kragbron is dieselfde kragbron wat in die Fire gebruik is. 70 kW is beskikbaar by 6000 o.p.m en wringkrag van 127 Nm is beskikbaar teen 4500 o.p.m. Volgens die vervaardiger is dit instaat om van 0 tot 100 km/u te versnel in 11,5 sekondes terwyl die topsnelheid 185 km/u is. Brandstofverbruik is 6,9 l/100 km en die brandstofhouer neem 45 liter.

Die bagasie ruimte is ‘n handige 440 liter en die grond hoogte van die kattebak is 15 sentimeter bo die grond. Dit is m.a.w. nie moeilik om die bagasie te laai nie. Die noodwiel is vol grootte en die gereedskap word in die noodwiel geberg in ‘n netjiese houer. Wanneer die agterste sitplek se leuning plat gevou word is daar aansienlik meer pakplek beskikbaar.

Op die oop pad is padgedrag van ‘n hoë standaard en wanneer die rathefboom gebruik word om na ‘n laer rat te skakel is die trek vermoë nie te versmaaie nie. ‘n Gemaklike sit posisie kan ingeneem word en die toerusting is binne maklike bereikbare afstand van die bestuurder.

Die Tipo is wel nie ‘n blitsbuks nie maar dit is die ideale motor vir ‘n eerste motor vir jongmense maar dit is ook die ideale motor vir moeder om die kinders mee skool toe te neem. Wanneer jy haastig raak kom die Italiaanse “lewendigheid” na vore en kan van die mededingers dalk in die stof byt!