Miljoene vrywilligers sluit aan by N-Korea leër

In oproep wat tot die volk gerig is, het sowat 3,5 miljoen werkende mense vrywillig by die Noord-Koreaanse leërmag aangesluit om die land te wreek teen die sanksies wat Amerika ingestel het.

Werkers, partylede, en soldate het as vrywilligers na vore getree om die land se leërmag te versterk “teen die gevaar van Amerikaanse aggressie”.

Die vrywilligers toon daarmee glo hulle verset teen die Verenigde Nasies se nuwe sanksies wat deur die VSA geïnisieer is en wat onder meer inhou dat Noord-Koreaanse werkers nie in ander lande maklik werk gaan kry nie omdat dit ook een van die sanksie maatreëls is.

Noord-Korea ondervind ernstige ekonomiese probleme nadat die sanksies ingestel is wat noodsaaklike materiaal soos steenkool insluit.

Die sanksies kom in antwoord op die land se volgehoue program om kernwapens te ontwikkel, wat strydig is met die VN resolusie oor kernwapens.

Een van die kommunistiese koerante berig dat meer as 89 000 jong manne op die eerste dag as vrywilligers aangemeld het in een van die provinsies.

Vroeër die week het die regime gedreig om ’n “waarskuwing” aan Amerika te stuur deur ’n missielaanval uit te voer op sy weermagbasis op die klein eiland Guam.

Die dag na die dreigement geopper is, het tienduisende kommuniste in die hoofstad aan ’n protesoptog deelgeneem waarin solidariteit met die kommunistiese regering gedemonstreer is.

Dit is egter nie die eerste keer dat die lawaaierige land met massa optogte probeer om die wêreld te beïndruk wanneer die spanning baie hoog geword het nie.