Lucuma plant, die versoeter sonder suiker

Lucuma is ‘n natuurlike versoeter wat ons miskien nie ken nie. Ons kan dit in poeiervorm koop maar is baie duur. Lucuma poeier kan gebruik word in nageregte en melkdrankies en smaak na karamel of Esdoringstroop en die vrugte van hierdie plant smaak soos soetpatats.

Lucuma is ‘n boom wat immergroen is en ook bekend as Pouteria lucuma. Dit is ornamenteel in die tuin en word aangeplant vir die vruggies wat dit dra.  Lucuma kom oorspronklik van Suid Amerika. Volgens bronne groei dit goed in koeler klimate, maar sal nie in plekke groei waar dit swaar ryp nie. Hierdie bome word 5 tot 16 meter hoog.

Die vrugte van Lucuma is meestal ovaalvormig met ‘n pit (wat aan ‘n lietsjie pit herinner).In sommige vrugte sal meer as een pit voorkom. Die vruggies het ‘n skerp punt aan die voorkant.  Lucuma vrugte se vleis van die vrugte is geel-oranje en lyk na ‘n hardgekookte eiergeel. Die skerp punt is nie baie smaakvol nie, maar die res van die vruggies word gebruik in disse. Die vrugte het ‘n hoë veselinhoud en dit is glutenvry. Dit het ook hoë proteïen, yster en kalsium inhoud.

Die beste tyd om Lucuma bome te plant is in die lente tot somer. Dit kan van die saad ook groei, maar die beste is om ‘n boompie te koop wat reeds groei. Nadat die vrugte afgeoes is, kan die bome gesnoei word deur die takke wat hang of dood is, af te sny.  Hierdie bome vertoon mooi as dit begin vrugte dra. Lucuma bome moet in volson geplant word en matige water kry. Dit sal nie goed op patio’s of binnenshuis aard nie. Lucuma bome groei nie te vinnig nie. Die oestyd van die vruggies is in die herfs of lente. Die blomtyd is in die lente en die kleur van die blomme is wit. Lucuma bome sal voëls na die tuin lok wat heerlik aan die vrugte gaan smul. Lucuma bome sal na drie jaar begin vrugte dra.

Hierdie vruggies kan rou geëet word of gedroog word en fyngestamp word tot ‘n poeier wat in die plek van suiker gebruik kan word in voedsel, roomys of vrugtedrankies. Lucuma poeier gee sommer ekstra smaak aan muesli en ander graankos.

Tuiniers, onthou dis een van die dae boomplant maand. Gaan besoek gerus die kwekerye vir ‘n mooi boom vir u tuin en geniet dit.