Khoza kry eerste trekpas

Dr. Makhosi Khoza, uitgesproke anti-Zuma ANC parlementslid, het die eerste van vermoedelik verskeie trekpasse van die ANC gekry.

Sy is summier afgedank as voorsitter van ‘n parlementêre komitee, omdat sy haar werk wou doen om minister Faith Muthambi voor stok te kry oor ongemagtigde reise vir familielede op staatskoste.

Vier ANC komiteelede het geweier om die komiteevergadering by te woon omdat Khoza die voorsitter is. Die ANC se hoofsweep het bevestig dat Khoza verwyder is omdat daar ‘n onherstelbare vertrouensbreuk ontstaan het  tussen Khoza en die betrokke LP’s.

Khoza het gesê dat die ANC ’n atmosfeer aangakker waarin daar ruimte is vir dié wat aan staatskaping en korrupsie skuldig is om vrylik te beweeg. Sy sê sy weet sy is afgedank omdat die ANC geweet het sy gaan vir Muthambi vasvat.

Voorlopig bly Khoza nog aan as parlementslid totdat haar tugverhoor by die ANC plaasvind. Waarnemers glo egter dat sy uit die ANC geskors gaan word en daardeur ook haar pos as LP gaan verloor.

Foto: Dr. Makhosi Khoza