Iran dreig om kernverdrag te kanselleer

Iran se president Hassan Rouhani het gedreig om die kernwapen ooreenkoms te kanselleer wat hy in 2015 onderteken het tydens die Obama bewind in die Verenigde State van Amerika.

Rouhani het in sy land se parlement gesê die Amerikaanse president, Donald Trump, is “nie ’n goeie vennoot nie”.

Die Iranse president het gewaarsku dat sy land die ooreenkoms met die VSA sal kanselleer en van voor begin met sy kernwapen program wat in 2015 gestaak is nadat ’n ooreenkoms met die VSA bereik is.

Die uitlating volg nadat die Trump-administrasie met nuwe sanksies teen die Islamitiese Republiek begin het.

Hassan Rouhani sê diegene wat dreig met sanksies en ander optrede, is gevange in hulle eie donker verlede.

Rouhani sê dit sal wel tyd neem om die kernwapen program heringestel te kry, maar die land sal “veel sterker as tevore” deur die proses beweeg.

President Donald Trump het vroeër gesê Iran moet nooit toegelaat word om weer met die ontwikkeling van kernwapens te begin nie.

Politieke ontleders wys die vinger vir Iran se dreigement na Amerika wat nuwe sanksies teen Iran ingestel het, en daarmee die land se regering tot die stap gedruk het.

Die mening is uitgespreek dat Iran deeglik kennis geneem het van die optrede in Noord-Korea wat voortgaan met sy kernwapenprogram te midde van die internasionale sanksies, en reken dus dat hulle dieselfde roete kan volg.

Foto – President Hassan Rouhani