Immigrante nie Duitsland se voordeel

Alexander Gauland, een van die mees senior kandidate van die nasionalistiese party, Alternatief vir Duitsland (AFD) het in ’n media onderhoud ’n duidelike roete aangedui wat sy party sal gebruik om onwettige immigrante terug te stuur na hulle lande van herkoms.

Gauland is een van die AFD se mees senior kandidate vir die komende algemene verkiesing van Duitsland wat in September gehou word.

Hy het beklemtoon dat die Europese lande se grense gesluit moet word vir immigrante, wat direk teen sy vorige politieke tuiste, die Christen Demokrate, se standpunt is.

Gauland was ’n steunpilaar en sterk ondersteuner van kanselier Angela Merkel, maar het weens die politieke verskille aansluiting gevind by die sterk nasionalistiese party.

Alhoewel meningsopnames toon dat die AFD nie veel vordering gaan toon in die komende verkiesing nie, word algemeen aanvaar dat dit aan die party se sterk standpunt is dat kanselier Merkel haar immigrante beleid ongemerk gewysig het.

Gauland sê in die onderhoud dat hierdie immigrante nie in Duitsland tuishoort en dus nie in die land toegelaat moet word nie.

Hy reken die immigrante behoort in sentrums buite Duitsland gehou te word tot hulle aansoeke om asiel gekeur is, waarna hulle of teruggestuur word na hulle tuisland, of in gevalle waar hulle werklik kwalifiseer, geplaas word in plekke wat vooraf bepaal is.

Hy wys daarop dat die Genève Konvensie duidelike riglyne bied van hoe die onwettige immigrante hanteer word.

“Duitsland het nie die immigrante nodig nie, en moet sy eie belange eerste stel, daarom moet immigrante elders ’n heenkome vind, want hulle kom na Europa vir ekonomiese redes, en massa inname van die vreemdelinge is nie tot Duitsland se voordeel nie” het hy gesê.

Foto – Alexander Gauland