Houttuynia cordata ‘Chameleon’ / Harlekynplant

 

Die harlekynplant is ‘n pragtige spreiende en meerjarige plant en behoort aan die Saururaceae familie en die rang is Piperales. Dit word ook aangeplant as grondbedekker en vertoon baie mooi tussen die sementblokke paadjies en ook tussen groot klippe in die tuin.

Die blare van hier plant is ongewoon en effens “Ivy-vormig”. Die blare word 4 tot 9 cm lank en 3 tot 8 cm breed en is hartvormig. Dit is ook helder groen en ons kan dit nie miskyk tussen die klippe nie. Houttuyania cordata kom oorspronklik van Japan en ook die Oosterse lande.

Houttuyania cordata dra ook blommetjies. Die blommetjies het net vier blaartjies met ‘n langerige stuifmeel stingeltjie. Sommiges van die blommetjies het 6  wit blare.  Dit blom gedurende die somermaande. Die plante word 20 tot 80 cm hoog. Harlekynplante maak lopers en so word hul meer en meer en mooier en ook digter. Dit het ‘n baie goeie wortelstelsel en die stam groei vertikaal, daarom versprei dit maklik.

Harlekynplante groei die beste in nat grond en in vol son. Hou die plante maar in toom want dit versprei vinnig en kan ‘n probleem in die tuin word. Dit word voortgeplant deur verdeling van die ou plante.

In Viëtnam gebruik die mense die blare as ‘n groente of ‘n krui. Volgens bronne het dit ‘n vissmaak en ook ‘n ligte munt smakie en hulle noem dit dan in sekere Oosterse lande “Fish mint”. Dit word mildelik in slaaie gebruik en ook saam met ander groente gekook vir die smaak wat dit het. In sekere lande gebruik die mense ook die wortels as ‘n groente. In Japan maak hulle ‘n tee van die gedroogde blare van die plant. Die Oosterse mense glo dit het groot medisinale waarde en help vir slaaploosheid. Sommige mense is baie allergies vir hierdie plante. Onthou altyd om versigtig te wees alvorens u dit as voedsel gebruik.

Tuiniers, hierdie plante kan soos onkruid in die tuin versprei. In sommige lande is dit reeds as onkruid verklaar en moet gekontroleer word. Geniet u tuin tot volgende keer en hou goeie moed, die lente is op pad.