Guptas se media verkope net ‘n rookskerm

Die Guptas het met ‘n verrassende aankondiging gekom dat hulle maatskappy, Oakbay Investments, hulle belang in hulle televisiekanaal, ANN7 vir R300 miljoen en The New Age koerant vir R150 miljoen verkoop het.

Die nuwe koper is Mzwanele (Jimmy) Manyi se maatskappy, Lodidox.

Manyi was ‘n voormalige regeringswoordvoerder en beeldpoetser van Jacob Zuma, met goeie verhoudings met die Guptas.

Dié goeie verhouding bly uit die voorwaardes van die transaksie.  Manyi het self nie die geld nie, en het ook geen lening gekry nie. Die Guptas leen self vir hom die geld om die media-instellings te koop.

Dus alhoewel die aandeelhouding op papier verander, het die Guptas steeds ‘n sterk greep op die die twee propaganda instellings.

Die vermoede is dat die transaksie suiwer gedoen word omdat die groot banke nie meer sake wil doen met Oakbay en die Guptas nie, en dat hulle hoop dat die nuwe maatskappy wel weer bankrekenings sal kan oopmaak.

Adv. Anton Alberts, VF Plus-woordvoerder oor kommunikasie, sê die Manyi-transaksie is ’n duidelike teken dat die Guptas weens die druk op hulle besig is om van hul belange in Suid-Afrika ontslae te raak.

“Hulle gebruik nou handlangers, soos Manyi, daarvoor. Manyi, wat openlik uitgesproke is teen witmonopoliekapitaal, sal deur dié platforms net die rasse-kookpot verder roer.”