Guptas dalk by belastingontduiking betrokke

Te midde van steeds meer onthullings oor die Guptas se betrokkenheid by staatskaping, en vermoedens dat hulle miljarde rande uit die land gesmokkel het, wil dit nou voorkom of hulle ook skuldig kan wees aan belastingontduiking.

Intussen is hulle maatskappy, Oakbay, besig om baie van sy bates te verkoop, skynbaar in ‘n poging om geld in hande te kry voor daar dalk toegeslaan kan word. Die mediabelange is reeds verkoop, en Oakbay het nou ook sy belange in Tegata verkoop.

Dit het uitgelek uit die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID) dat die Gupta boeties beweer dat hulle elkeen ‘n salaris van minder as R1 miljoen per jaar verdien het, nogal vir drie agtereenvolgende jare.

Dit laat onmiddellik vrae ontstaan oor hulle R14 miljoen Saxonwold paleis, hulle ander huise, private stralers, en rojale leefwyse.

Die SAID word nou met valkoë dopgehou of hulle die saak verder gaan ondersoek, en of dit betyds gaan plaasvind voordat die Guptas al hulle bates verkoop het en die land moontlik verlaat.