Groter spanning tussen Turkye en Duitsland

Turkye se president, Recep Tayyip Erdogan, het Duitsland se minister van buitelandse sake gewaarsku en gesê die minister moet sy beperkinge ken en hom eerder bemoei met die verrigting van die komende algemene verkiesing.

Erdogan het die Turkse inwoners in Duitsland wat oor stemreg in die land beskik, gevra om teen kanselier Merkel en haar regering te stem.

Hy het Duitsland weer eens gekritiseer nadat die Duitse minister van buitelandse sake, Sigmar Gabriel, hom verkwalik het dat hy Turkse kiesers in die land voorskryf hoe hulle moet stem in die September verkiesing.

Erdogan het uitgevaar teen minister Gabriel en gevra “wie is jy en met wie praat jy miskien en weet jy dat jy met die president van Turkye praat, of ken jy nie jou eie beperkinge nie?”

Minister Gabriel het in reaksie daarop gesê dit is duidelik dat die Turkse president onseker is van homself en ’n ongevraagde inmenging met Duitsland se verkiesing openbaar en daarmee die soewereiniteit van Duitsland aantas.

Die Turkse president het gesê die Turke in Duitsland moet die regering van Bondskanselier Angela Merkel vir eens en vir altyd ’n les leer en nie vir die Christen Demokrate en die Sosiaal Demokrate stem nie.

Intussen het hy ook gesê die drie Duitsers wat in Turkse tronke aangehou word, sal nie vrygelaat word nie.

Waarnemers het gesê die president het glo opdrag gegee om so veel as moontlik Duitsers te vervolg wat tans werksaam is in Turkye.

Foto – President Recep Tayyip Erdogan